My Boetie se Sussie se Ou
My Boetie se Sussie se Ou – Phillru van Achterbergh, Botha Enslin, Marissa Claasen, Danielle Britz, Nico Loubser, Stefan Lötter en Nikita Meyer
As jy dink jou lewe is ingewikkeld, plaas jouself vir ‘n oomblik in John Smith se skoene, daardie taxi-bestuurder van My Vrou se Man se Vrou met twee vrouens, en nou ook twee gesinne! Dis reg, in My Boetie se Sussie se Ou is dit agtien jaar later en hou John steeds twee families in verskillende dele van Londen aan, beide dolgelukkig en salig onbewus van mekaar. Maar wanneer sy twee tieners, ‘n dogter van die een gesin en ‘n seun van die ander, mekaar op sosiale media raak gesels en angstig besluit om mekaar in die persoon te ontmoet, versnel John se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat, en moet hy spook om hulle uitmekaar te hou. Klug op sy beste!
Dinner for One / Sopper vir Een
Dinner For One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is. Dié uiters snaakse roomtertkomedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek. Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hom moet drink). “Same procedure as every year, James.” Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke … en die spanning loop al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val.
En as ‘n bonus is daar ook Sopper vir Een – die Suid-Agrikaanse “spoof”!
Ge Sing: Hoor my Lied!
Dis vanjaar 25 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied!
Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”
In die produksie Gé Sing: Hoor My Lied word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars: André Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt en Stephanie Baartman. Die produksie spog met ‘n volle orkes onder leiding van musikale regisseur, Chanie Jonker. Die regie en teks deur Frans Swart.
Groet die Grotman 2
Dit is vyftien jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Vrouens is steeds
die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer en regisseur Frans Swart.
“Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.”
Die Pomporrelkonsert en ander Sandveldstories
Soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat hierdie streek aan ons land se Weskus hul tuiste noem. Sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is. Botha Enslin bring ’n keur van gewilde kontreistories, geskryf in tipiese streekstaal wat handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, na die verhoog toe in Die Pomporrelkonsert.
Daar is “Oompie Paul se groot nood”, “Die dood vannie founmannetjie” en “Die oorbesige prekkereer” wat begin: “Kyk, ek weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ‘t toet Petrus die duiwel wel gedagvaar ‘t nie…” “Ons ontmoet ook vir Pensie, nurse Drientjie van Schalkwyk, Tanta Anna, sy met die wye tande, en natuurlik Dirk Ligter, die nimlike hy…”, sê Botha, wat in die produksie lewe gee aan meer as 30 karakters. “Botha Enslin is ’n meester van karakterisering”, sê regisseur Frans Swart. “Hierdie man kan net met ’n draai en ’n beweging vir jou die volgende karakter gee. Hy is ongelooflik talentvol.”
Helene Bester sing: Nana Mouskouri
Helene Bester bring in haar produksie – Helene Bester sing Nana Mouskouri – hulde aan die ikoniese Griekse sangeres. Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser.
“Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het regtig gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.”
Ek’t haar musiekvideo’s “opgeswot” om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak. Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader, was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”
Liewe Heksie
Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats keer terug na die Atterburyteater in Pretoria! Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels het kort voor haar dood ‘n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet toe hy een oggend in Heksie se tuin wakker word. Maar wie kruip daar agter ‘n boom weg? Is dit die nare gifappeltjies?
Vlerksleep
Volgens die woordeboek beteken “vlerksleep” om by ’n meisie aan te lê, soos wat die voëls (veral duiwe) hul vlerke sleep om die wyfies se aandag te kry vir so ’n ietsie lekkers! In hierdie komedie ontmoet ons vir Richard en Julia, albei in hul laat 50’s. Onlangs geskei. Beide is nou in die proses om te begin kyk na nuwe metgeselle deur op ’n aantal toe-oë-afsprake te gaan. Volg dié twee se eskapades deur ’n reeks onverwagte, eienaardige en wisselvallige romantiese probeerslae waar absoluut niks volgens plan verloop nie.
Koos Doep
“Trek my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit . . . ek is ’n doodgewone ou.” Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan, sou in 2025 sy 80ste verjaarsdag gevier het. En tog, ’n goeie 40 jaar ná sy dood as daar gepraat word van “Koos”, dan weet bykans enige persoon van wie daar gepraat word en daar is dadelik ’n klomp treffers wat by ’n mens opkom, waaronder “Sprokie vir ’n stadskind”, “Kinders van die wind”, “Gebed” en “As almal ver is”. Dit is die omvang van Koos du Plessis se bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek. Waarom dit so is, is die onderwerp van menige debat, partykeer in die lesingsale van universiteite, maar meestal in die middernagure, met ’n “Kinders van die wind” of ’n “Skielik is jy vry” wat iewers in die agtergrond speel. Natuurlik met ’n goeie bottel rooiwyn, Koos Doep se gunstelingdrankie.